
ONDERSTEUNINGSBEDIENING
Diensverhoudinge | Eiendomme | Geldsake
Die Ondersteuningsbediening wil gestalte gee aan dit wat in ons missie rakende die nodige middele vir die bediening in Welgeluk gestel word, naamlik: “Die N.G. Kerk Welgeluk is geroep om God Drie-Enig te verheerlik… Om ons hiertoe in staat te stel – deur verkondiging, toerusting, administrasie en bestuur, sonder ons onder leiding van die Heilige Gees, lidmate af om in die ampte van leraars, ouderlinge en diakens te dien of om sekere funksies te vervul…”
DIENSVERHOUDINGE
Vir die effektiewe verloop van sake in Welgeluk is daar ‘n bekwame, toegewyde en gelukkige personeelkorps nodig. Dié bestaan uit die leraar, orrelis, skriba/kassier, koster en twee terreinpersoneellede.
Ons Komitee vir Diensverhoudinge sien toe dat personeellede behoorlik indiensgeneem, effektief aangewend en voldoende vergoed word. Goeie onderlinge kommunikasie en gesonde dissiplinêre prosedures moet gehandhaaf word.
EIENDOMME
Welgeluk beskik oor ‘n doelmatige kerkgebou, ‘n mooi en ruim kerkterrein, ‘n gerieflike sentrum en kantoor, genoeg kategeselokale, ‘n geskikte pastorie in Ladysmithstraat en ‘n nuwe kombi. Ons kerkterrein en gebouekompleks word in die eerste instansie gebruik om aan die gemeente ‘n ruimte te bied waar die Here God aanbid, geloof en gedien kan word; waar ons as belydende- en dooplidmate in en deur die Woord onderrig en toegerus kan word; waar die gemeente as gemeenskap van gelowiges feestelik saam met mekaar kan verkeer; en waar, uiteindelik, lidmate ook ‘n laaste rusplek in ons Gedenkmuur kan kry. Die fasiliteite van Welgeluk is ook tot beskikking van lidmate vir hul persoonlike gebruik, byeenkomste van die N.G.Kerk in breër verband en aan die breër publiek – in laasgenoemde geval by wyse van ‘n basiese huurooreenkoms.
Die Eiendomskomitee sien toe dat ons terrein en gebouekompleks as ‘n bate vir die gemeente bestuur word, behoorlik instandgehou verder ontwikkel word. Ons koster is ook lid van die komitee. Vir ‘n bespreking van ons lokale, kontak die kerkkantoor.
GELDSAKE
Die basiese bron vir ons inkomste is ons maandelikse dankoffers van lidmate. Hierdie dankoffers word op een van drie maniere ingebring: deur die uitdeel van dankofferkoeverte, die direkte inbetaling in ons rekening(EFT) of die teken van ‘n aftrekorde by u bank. ‘n Tweede bron van inkomste is die eredienskollektes (vir die gemeente) en ‘n deurkollekte elke Sondag (vir spesifieke werksaamhede van die kerkverband en goedgekeurde instansies). ‘n Derde bron is die jaarlikse basaar wat in Mei gehou word. Die vierde bron is ons spesiale dankoffer Sondag in die begin van November. Die opbrengs uit rentes op beleggings, huurgelde vir ons lokale vorm ‘n belangrike vyfde bron van inkomste vir ons gemeente.
Ons uitgawes bestaan hoofsaaklik uit die salarisse, lone en toelaes van personeellede; instandhouding en bedryfskostes van die kerkgeboue en terrein; bydraes tot werksaamhede van die kerkverband en dan die ondersteuning van ons ses bedieningsgroepe vir al hul werksaamhede. Die daaglikse administrasie van ons geldsake is in die hande van die kassier en word deur ‘n komitee van lidmate bestuur.
Lidmate wat kundighede op enige terrein van ons ondersteuningsbediening het, is welkom om by ons werksaamhede betrokke te raak .